Hierdie naam is volgens die Oos-Slawiese gebruik; die patroniem is Pawlowitsj en die van is Tsjechof.
Anton Tsjechof | |
---|---|
Tsjechof in 1889.
| |
Geboortenaam | Anton Pawlowitsj Tsjechof |
Gebore | 29 Januarie [O.S. 17 Januarie] 1860 |
Plek | Taganrog, Russiese Ryk |
Oorlede | 15 Julie [O.S. 2 Julie] 1904 (op 44) |
Plek | Badenweiler, Duitse Keiserryk |
Beroep | Geneesheer, dramaturg, skrywer |
Nasionaliteit | Russies |
Gade | Olga Knipper |
Handtekening |
Anton Pawlowitsj Tsjechof (Russies: Анто́н Па́влович Че́хов, ouer spelling Антонъ Павловичъ Чеховъ; 29 Januarie [O.S. 17 Januarie] 1860 – 15 Julie [O.S. 2 Julie] 1904) was ’n Russiese geneesheer, dramaturg en skrywer wat beskou word as een van die grootste skeppers van kortverhale in die geskiedenis.[1][2][3] Tsjechof het in die grootste deel van sy letterkundige lewe as dokter gepraktiseer: "Die geneeskunde is my wettige vrou," het hy eenkeer gesê, "en letterkunde my minnares."[4]
Tsjechof het die teater verwerp ná die rampspoedige ontvangs van Die Meeu in 1896, maar die toneelstuk is in 1898 weer op die planke gebring in die Moskouse Kunsteater, wat daarna ook Tsjechof se Oom Wanja, Drie Susters en Die Kersieboord opgevoer het. Dié vier werke was ’n uitdaging vir die akteurs[5] sowel as die gehoor, want in plaas van konvensionele aksie bied Tsjechof ’n "teater van gemoedstoestande" in die teks.[6]
Tsjechof het aanvanklik net vir finansiële gewin geskryf, maar later het sy kunsambisie gegroei en het hy innovasies aangebring wat die ontwikkeling van die moderne kortverhaal beïnvloed het.[7]
Sy tegniek van interne monoloog is later deur James Joyce en ander moderniste gevolg, saam met die verwerping van die morele einde van die tradisionele storiestruktuur. Hy het gemeen lesers moet self die subjektiewe elemente invoeg wat in die storie kortkom. Hy het gesê die rol van ’n kunstenaar is om vrae te stel, nie antwoorde te verskaf nie.[8]